Gray Horne's Collection
GRAY HORNE SE VERSAMELING
Ek is Gray Horne (neè Haywood). Wilma Paton is my sussie en sy is Juliana se skoondogter. Ons het Juliana “ouma Julie” genoem. Sy het gereeld uitstallings in Vereeniging gehou, soms saam met Sheila Shantilano. Mary Hoogenhout (destydse burgemeester) het altyd die funksies geopen. Dit was altyd ‘n spoggerige geleentheid. Ek wonder of ouma Julie ooit kon dink dat haar skilderye soveel vreugde in ons lewens sou bring.
1. BERGE
Hierdie is een van die min akrielskilderye deur Juliana. Dit was haar trougeskenk aan ons toe ek en James in 1978 getroud is. Sy het geweet ek en Wilma en ons ouers kom van Elliot af, waar die mooiste blou berge is.
2. STROOISE
Hierdie skildery is deur my ouers, Kok en Irene Haywood, op een van Juliana se uitstallings gekoop. Elliot lê teen die ou Transkei waar hierdie Xhosa-hutte was. Die vuurpyle groei ook tipies in daardie omgewing. Op plekke waar baie vuurpyle gegroei het, het dit gelyk of die berg brand wanneer hulle blom. Na my pa se dood het ek en Wilma die skilderye onder die kleinkinders uitgedeel en hierdie een behoort aan my seun Henry.
3. TWEE MINIATURE
Net voordat Ouma Julie by haar dogter Pam in De Aar gaan woon het, het sy ‘n paar pastelle op die tafel uitgepak en gesê ek kon daarvan kies. Ek het egter van hierdie sketse uit haar “sketch book” gehou en gevra dat sy dit vir my moet skilder en sy het ingestem.
4. TAKKIE MET BLOEISELS
Juliana het hierdie skildery in 1998 geskilder en ek het dit in 1999 as verjaardaggeskenk van Wilma-hulle gekry. Agterop is ‘n baie mooi boodskap van Wilma.
5. ROOS MET TWEE KNOPPE
Hierdie skildery hang saam met die bloeiseltakkie en die kosmosskildery.
6. KOSMOSSE
Ek het hierdie skildery op een van Julie se uitstallings gekoop vir R95. Dit was in die era toe kunstenaars graag kosmosse geskilder het en dit hoog in aanvraag was, iewers van 1975 tot 1977.
Jare later, by Johanna Taute aan huis, ontdek ek ‘n soortgelyke skildery. Sy vertel dat sy op die aand van die uitstalling die skildery wou koop, maar dis toe reeds aan my verkoop en Juliana het belowe om vir haar ‘n soortgelyke een te skilder. Daar is belangrike verskille tussen die twee werke, maar die gevoel is dieselfde en dit is ook dieselfde geraam.
7. WIT STILLEWE
Hierdie stillewe behoort nie aan my nie. Dit is een van Juliana se vroëe werke en behoort aan Wilma se dogter Julene. Dit hang in my huis omdat Julene se blyplekkie te klein is en agterop is ‘n nota wat dit duidelik stel dat die skildery aan die Patons behoort. ‘n Tyd gelede het Julene gedroom dat ouma Julie sê sy moet in die regterkantse onderste hoek van die skildery kyk. Nie een van ons sien egter iets nie!







